GluTeN vry

ONS StoRiE


Na ‘n traumatiese gebeuertenis in my lewe so twee jaar gelede het ek ongelooflik sleg begin voel. Ek het gedurig kopseer, moegheid, maagpyn gehad, geen eetlus nie en opgeblaas gevoel. Ek het geweldig gewig begin verloor en besluit om dokter toe te gaan. Die dokter het vermoed dat ek ly aan ‘n spastiese kolon en ‘n maagseer en het my daarvoor behandel. Na al die medikasie was die probleem nogsteeds nie opgelos nie. Ek het vir verskeie bloedtoetse en plate gegaan, hulle kon niks fout vind nie. Die enigste ander oorsaak waaraan die dokter kon dink was dat dit ‘n allergie kan wees. Ek het ‘n spesialis besoek en sy het vasgestel dat ek wel gluten-sensitief is. Dit het my wêreld omgekeer, my gunsteling peuselhappies was my ouma se beskuit en koekies, nou mag ek dit nie meer eet nie! Ek was baie moedeloos en dit het gevoel of ek niks meer kan eet nie. Dit was ‘n groot aanpassing wat ons gesin moes maak, ons moes begin oplet na al die produkte se etikette en wat dit bevat. Ons het begin rond soek na glutenvrye produkte en het wel op ‘n paar winkels en restaurante afgekom. Groot was my verbasing na ‘n familie besoek aan New Zealand, daar was ek gebombardeer met ‘n verkeidenheid van glutenvrye produkte, ek kon kies en keur. Dit was heerlik om in enige restaurant of koffie winkel te gaan sit en op die spyskaart was daar altyd glutenvrye geregte. Die lekkerste was die muffinwinkel in Auckland waar ek vir die dame agter die toonbank vra of hulle glutenvrye muffins het, waarop sy antwoord: “yes, what flavour would you like?” In Suid-Afrika sal dit ‘n vreemde verskynsel wees. Ons land is nog oningelig en agter as dit kom by gluten-sensitiwiteit, daar is min winkels en restaurante wat voorsiening maak daarvoor.

 
Dit het ons laat besef hoe groot die aanvraag is na glutenvrye produkte en inligting in Suid-Afrika. Daarom het ek, Mareli en my sussie Dorè, besluit om ‘n blog te begin om ander mense bewus te maak. Ons wil graag oulike produkte, restaurant en resepte wat ons ontwikkel het, met ons bloggers deel. Ons sal julle weekliks op datum hou van die nuutste glutenvrye trends. Julle is welkom om julle stories en vrae met ons te deel, ons help graag waar ons kan. Geniet die blog!

No comments:

Post a Comment